STEWIGE WEGSPRING IN GTC-SEISOEN VIR TOYOTA GAZOO RACING SA-JAER MICHAEL VAN ROOYEN

Die 2019-GTC-seisoen het stewig begin vir die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Michael van Rooyen, wat sy Toyota Corolla Vrydag 1 Maart in die tweede plek op die Dezzi-renbaan in Port Shepstone, KZN, kwalifiseer het. Die Rustenburgse jaer het ’n wipwaentjie-ren in Ren 1 oorleef, waarna hy die tweede plek in Ren 2 losgejaag het.

“Die kwalifiserende ronde het uiters nat begin,” het Van Rooyen ná die byeenkoms gesê. “Die baan was in die vroeë stadium net te nat om enige mededingende tye op te stel, en dit het uiteindelik net gegaan oor hoe vinnig jy in die laaste rondte van die kwalifiserende ronde kon ry.”

Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer het nie teleurgestel nie, en sy Toyota Corolla in die tweede wegspringposisie vir Ren 1 parkeer – net 0,793 sekondes agter die Audi van Simon Moss. En toe kom Ren 1 aan die beurt, wat in ’n stryd om oorlewing eerder as ’n goeie uitslag ontaard het.

“Toe die ligte groen word, was ons duidelik een van die vinnigste motors, en ek was reg op Moss se stert,” het Van Rooyen gesê. “Hy het ’n effense fout in Draai 3 gemaak, wat die deur vir my geopen het om hom in Draai 4 aan te durf. Maar ek kon dit nie volhou nie, en as gevolg daarvan het Robert Wolk (BMW) daarin geslaag om by my verby te kom.”

Dinge het in die volgende rondte begin warm word, want die Toyota Gazoo Racing-jaer was duidelik vinniger as Wolk, maar kon nie verbykom nie. Gevolglik het Keagan Masters (Volkswagen) die Corolla ingehaal en van agter af kontak gemaak. Dit het daartoe gelei dat Van Rooyen nog ’n paar plekke verloor het.

’n Kort stryd halfad deur die ren het gevolg totdat die veiligheidsmotor uitgestuur is nadat een van die GTC2-motors op ’n gevaarlike deel van die baan gebots het. Nog kontak in die veiligheidsmotor-tydperk het ’n aantal motors beskadig, en Van Rooyen het die Toyota Corolla uiteindelik in die negende plek oor die eindstreep gestuur.

Die ren is uiteindelik deur Moss gewen, met Masters tweede en Daniel Rowe (Volkswagen) in die derde plek.

Ren 2 het ’n omgekeerde wegspringrooster gehad, met die wenners van Ren 1 wat aan die agterkant weggespring het. Dit het Van Rooyen weer in ’n sterk beginposisie geplaas, en hierdie keer het die Toyota Corolla-jaer die geleentheid behoorlik benut.

Hoewel die Audi-jaer Simon Moss uiteindelik die wedren gewen het, het Van Rooyen die tweede plek ná ’n skoon lopie – net 1,3s agter Moss – aangeteken.

“Ek het ’n goeie lopie in Ren 2 gehad, en dit was ’n riem onder die hart om te sien dat die Corolla duidelik voor die meeste van die pak was. Ons het byna ses sekondes voor die jaer in die derde plek geëindig. Dit wys net hoe goed die motor nou reeds is,” het Van Rooyen gesê.

Wat die algehele uitslae betref, het Van Rooyen die vyfde plek in sy debuut-uitstappie met die nuwe Toyota Gazoo Racing SA Corolla aangeteken: “Ons het ’n bietjie hoër as dit vir die naweek gemik, maar ná die drama in Ren 1 is ek bly dat ons uiteindeik waardevolle punte aangeteken het. Nou moet ons net ’n bietjie ekstra spoed uitkrap om daai Audi in ’n hoek te druk.”

Van Rooyen se deelname aan die Dezzi-ren het Toyota se geskiedkundige terugkeer na baanrenne ingelui, wat in 2002 laas ’n fabriekspan ingeskryf het toe Charl Wilken en Mark Cronjé in Toyota Corollas in Klas B van die Suid-Afrikaanse Produksiemotorkampioenskap deelgeneem het.

Ronde 2 van die 2019-GTC-reeks is op 5 en 6 April by die Zwartkops-renbaan in Gauteng.

Be the first to comment on "STEWIGE WEGSPRING IN GTC-SEISOEN VIR TOYOTA GAZOO RACING SA-JAER MICHAEL VAN ROOYEN"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*