Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Michael van Rooyen het sy GTC- Toyota Corolla Saterdag tot ’n goeie vyfde plek in Ren 1 en ’n puik tweede in Ren 2 van die vyfde ronde van die GTC-kampioenskap op Zwartkops oor die wenstreep gestuur. Dít het die Rustenburgse jaer ’n gesonde punte-oes vir die kampioenskap besorg en hou hom stewig in die stryd namate die seisoen vorder.
“Die naweek het vir ons goed begin,” het Van Rooyen ná die ren gesê. “Ons was baie vinnig in al die oefenlopies, en het regdeur onder die voorste drie gebly. Ons het dié pas na Saterdag oorgedra en die tweede vinnigste tyd in die oggend se opwarmingsronde opgestel.”
Die kwalifiserende ronde het presies dieselfde opgelewer toe dié Toyota Corolla-jaer die tweede beste tyd opgestel het, waarmee hy die voorste wegspringposisie net-net misgeloop het.
Die kampioenskapsvoorloper, Simon Moss (Audi), was die vinnigste terwyl die Volkswagen-jaer Keagan Masters die derde vinnigste tyd aangeteken het.
“Ek het egter nie die beste wegspring in Ren 1 gehad nie, en het in die gerondslomp in draai twee en drie ’n posisie afgestaan. Maar toe kom die laaste regsdraai in draai vier, waar ek soos gewoonlik gerem en ingedraai het,” het Van Rooyen verduidelik. “Ek het egter die kant van die baan aan die uitdraaipunt getref, en toe ek die versneller weer wegtrap, het die motor weens stuurtraagheid van die baan af gery.”
Die data wat ná die ren ontleed is, het gewys Van Rooyen het alles soos gewoonlik gedoen, wat daarop dui dat ’n gebrek aan bandetemperatuur heel waarskynlik die oorsaak was.
“Wat dit ook al veroorsaak het – dit het ons duur te staan gekom,” het Van Rooyen verder vertel. “ ’n Klomp motors het verbygekom, maar die afstand na die pak voorjaers het ook vergroot. Ek het hard probeer, maar die ren in die vyfde plek voltooi – ’n groot teleurstelling ná so ’n goeie kwalifiserende ronde.”
Moss het Ren 1 gewen, met Masters tweede en Johan Fourie, wat in ’n BMW jaag, in die derde plek.
Die Toyota Corolla het in Ren 2 weens die omgekeerde wegspringrooster wat op die uitslag van die eerste ren gegrond is, in die vyfde plek weggespring. Die Rustenburgse jaer het goed weggespring en in die vinnige derde draai as een van drie motors langs mekaar om die draai geseil.
“Ek het die beste daarvan afgekom en in die tweede plek agter Robbie (Wolk) ingeskuif,” het Van Rooyen gesê. “Ek kon aanvanklik by hom bly, maar hy het beter bande gehad en dit het aan die einde van die ren in sy guns getel. My tweede plek was egter steeds ’n goeie uitslag van vyfde op die wegspringrooster af.”
Ren 2 is dus deur Wolk (BMW) gewen, met Van Rooyen tweede en Fourie weer derde.
“In die geheel was dit ’n goeie naweek vir ons,” het die Toyota Corolla-jaer gesê. “Ons het betekenisvolle punte aangeteken, en hoewel die punte vir die naweek nog bekragtig moet word, is ek seker ons het op die algehele punteleer opgeskuif.”
Volgende is die sesde ronde van die reeks oor agt byeenkomste, wat dié keer op die Oos-Londense Grand Prix-renbaan op 30 en 31 Augustus beslis word.
“Oos-Londen is ’n baie moeilike baan, maar ons geniet altyd ’n uitdaging,” het Van Rooyen afgesluit. “Dis net jammer dat ons nie dieselfde steun sal hê as wat ons hierdie naweek by Zwartkops gehad het nie, aangesien talle Toyota SA Motors-verteenwoordigers ons kom aanmoedig het. Die Oos-Kaap is in elke opsig ’n wegbyeenkoms vir ons, maar ons sal ons bes doen om aan die einde van Augustus die meeste punte moontlik aan te teken.”
Be the first to comment on "GOEIE PUNTE-OES VIR TOYOTA GAZOO RACING SA-JAER MICHAEL VAN ROOYEN IN 5DE RONDE VAN 2019- GTC-KAMPIOENSKAP"