TOYOTA GAZOO RACING SA-JAERS LATEGAN/CUMMINGS WEN IN BRONKHORSTSPRUIT

Die Bronkhorstspruit 400-veldren, die vierde ronde in die 2019- Suid-Afrikaanse veldtydrenkampioenskap (SACCS), was hierdie naweek ’n droomren vir die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Henk Lategan. Dié Toyota Hilux-jaer het die ren algeheel gewen deur sy uitslag in 2018, toe hy sy heel eerste veldrenoorwinning in dieselfde byeenkoms aangeteken het, te herhaal. Vanjaar het hy langs Brett Cummings in die navigator-sitplek gejaag, terwyl Barry White verlede jaar die roetenotas gelees het.

Lategan/Cummings se oorwinning in vier uur 37 minute en 15 sekondes in die Bronkhorstspruit-ren was die kersie op die Toyota-koek in dié klas. Hul spanmaats Shameer Variawa en Juan Möhr het hul goeie lopie voortgesit deur die derde vinnigste tyd algeheel in te neem – ’n kortkop agter die Atlas Copco- Toyota Hilux-jaers Chris Visser en sy nuwe navigator, Danie Stassen.
Visser het onlangs die 2019-Toyota-1000-Woestynren met Philip Herselman langs hom gewen, en het die Bronkhorstspruit 400-ren 7 min. 11 sek. agter Lategan/Cummings voltooi.

Ongelukkig het die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Giniel de Villiers en sy navigator, Dennis Murphy, ná ’n teleurstellende kwalifiserende voorren Vrydag voor die hoofbyeenkoms nie daarin geslaag om betekenisvolle punte aan te teken nie.

“Ek is nie seker of ek die aanwysing gemis of net nie geregistreer het nie, maar ek het vroeg in die roete myle te vinnig in ’n baie rowwe gedeelte van die roete aangekom,” het die verdedigende kampioen vertel nadat die stof oor die voorren gaan lê het. “Ons het ’n rots teen hoë spoed getref, wat die mikveer aan die linkerkantste voorvering gebreek het. Ons kon nie voortgaan nie en moes die hoofren noodgedwonge heel agter op die wegspringrooster begin.”

Dié twee het as die 19de produksiemotor op die pad weggetrek en moes die stof van ’n string stadiger motors sowel as al die buisraammotors voor hulle regdeur die roete hanteer. Desondanks het De Villiers/Murphy tien plekke opgeskuif en uiteindelik negende algeheel geëindig, wat hulle ’n handjievol punte besorg het.

“Dit was nou nie juis die uitslag wat ons op hierdie tydstip van die kampioenskap nodig gehad het nie,” het De Villiers gesê. “Ons het egter daarin geslaag om iets te red, en die Hilux het vandag soos klokslag geloop.”

Die louere in Klas T is deur die Ford Ranger-jaers Lance Woolridge en Ward Huxtable ingeoes, wat hul onoorwonne lopie vir die seisoen voortgesit het. Hulle is regdeur die ren op hul tone gehou deur Gary Bertholdt en Geoff Minnitt, wat in hul Atlas Copco Toyota Hilux uiteindelik net 24 sekondes agter die klaswenners was. Die Horn-broers Johan en Werner het die hele ren hard gejaag, maar was uiteindelik 59 sekondes stadiger as Bertholdt/Minnitt en het die derde plek beklink.

“In die geheel was dit ’n wonderlike naweek vir Toyota,” het Glyn Hall, hoof van die Toyota Gazoo Racing SA-span, gesê. “Natuurlik was dit teleurstellend vir Giniel en Dennis, maar ons is trots op die res van die span en baie in ons noppies met Henk en Brett se oorwinning.”

Die volgende ronde in die 2019-SACCS is die Harrismith 400, wat 13 en 14 September beslis word. Toyota Gazoo Racing SA sal egter aandag aan die Dakar-ren begin gee en beplan ’n toetssessie later in Augustus.

Be the first to comment on "TOYOTA GAZOO RACING SA-JAERS LATEGAN/CUMMINGS WEN IN BRONKHORSTSPRUIT"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*